DIE NOENMAAL OP DIE GRAS
Na n skildery van Monet
Alledaags of sedig was ek nooit. Ek het daaroor geen illusie nie. Ek is Parysenaar.
My professie: mateloos op my rug  plafonne het baie patrone 
en liewer dit as n paraplu en n sluier van verveling.
Sou hierdie here eers n ompad wil loop met knibbelgoedjies
uit n mandjie en kieliegrassies vir my stert, speel ek nonchalant saam.
Die bome sal gou verdonker,
die looppaadjie afskans wanneer hekke sluit om dan versigtig betas te word 
die een my enkel, die ander my sagte oor. Onvermydelik moet hulle klr maak, en soos bang getroudes
met die hasepad huis toe snel.
Netnou sal die een sy kierietjie staanmaak teen n boom,
die ander sy krawat losknoop. Intussen tril refleksies oor my kaal vel,
plaas my so presies in die briljante middaglig dat hulle voornemens klaar in hulle prunellabroeke bult.
