  STEEDS VERTEL DIE  KLIPPE
Eeue gelede 
nog voor die wonder van skrif of die kameralens se koue knip, is beelde met modder of klip, plantsap of bloed
vasgevang  teen die wande van grotte, op tablette, op die velle van diere
en soms mense.
Vergesigte word geboekstaaf deur sjamane  reise, draaie deur die ekstatiese ruimtes van die brein verbeeld as spirale,
sirkels, die eenwording van mens en dier  die heldhaftigheid, die vaardigheid
van manlike jagters.
S word die spore neergel, ingebed en vergestalt,
beelde wat ons moeilik verwoord, maar tog kan sien
en daarom verbeel of droom.
Die versamelaars dra stories subversief in hul monde, fluisteringe wat uitkring soos in water
en stadig die aarde in sypel, of langsaam verdamp.
Steeds vertel die klippe,
maar swyg die wolke en die grond.
