REIS
Wees versigtig, my lief, op jou reis deur die binneland, weg van my na waar skemer met vaal karoobos die hemel verf en verder suid
Colesberg en Beaufort-Wes onverpoos wys: die mylpaal se vermoeide tre, tru
uur na uur na die noorde terug, totdat die verbete afskeid breek in hande wat krampagtig hou en o die afskeid mistig meet.
Mond en tong ken reeds die verlange by die aanvang van n reis.
Ry na Meiringspoort
waar klippe soos altare stapel
vir die kromgetrekte lug oor Herriesburg. Druk deur klip na klip
na koel ooptes wat vou
soos wolke uit die see van Mosselbaai en in elke oop oor van n skulp draai ou herinneringe gedurig uit. Oor die see kom die nag, my lief,
en beur oor die Swartberg na my terug.
