VIR BEETHOVEN
(Oor sy Daiku en ons unsterbliche Geliebte)
my lief
my ander self
as ons net vry
deur die oneindigheid
in volkome maat
in helder sirkels kan bly val
deur oop vyfdes allegro
in kringe om die gravitasie
van stof kan speel
sal ons in vol stilte
die duet van harte
die kwartet van hande voel
wat raak
onder n liewe God
wat bokant soveel sonne woon
sal ons bevryding
uit die drieklank
van bloed
begeerte en vergiffenis
vou
en sal ek
die negende maal
vir jou
sonder om te hoor
op die stilte van papier
ons Koraal
onsterflik
verf
