OOR LIG
(of dalk oor Lente)
As jy deur my tyd ry
laat jou hoewe vir my klap
op die melkwe dat die sterre so spat
want jare is nie tyd nie, lig is
fynbos wat vure teen die heuwels brand.
Hoor hoe knetter my hart langs die berg op 
in die nag as al ons paaie swart word,
stotter ek deur lig om iets vir jou te vertaal
uit die roep van die duiwe oor die dakke,
maar elke nag wat hoog brand,
smoor soggens in my voorbrande
as energie afkoel tot massa
en ons hoofsaaklik lig en donker
onder hierdie son bly lieg soos heiliges
op die styl van sendelinge in die nag 
as ons maak asof ons liefhet, 
wil ek hier wegkom.
Ry deur die skuilings van my voorposte
dat jy naby genoeg aan my kom
vir my om jou hoewe te soen,
my spore in jou te druk
snags as die geruite hen
op die mandorla van haar nes vol klei-eiers
diep uit haar krop uit brom oor die swart
vlekke voor die maan, of met eerste lig
saam met die troppe na sonneblomlande trek
en ek twyfel of jy regtig weet hoe nodig ek jou het.
Jy ry so alleen met jou mandjie vol skoenlappers
ek roep jou so onbeholpe met my fluit.
Soms wil ek soos n hings deur jou draf
tot al die water helder om ons klink.
Dalk ry jy my eendag in die lig raak,
in Andromeda, byvoorbeeld, waar ons saam
uit jou mandjie magnetiese toebroodjies 
met sonbotter en stroop op n kuberpiekniek
kan uitdink terwyl wit Arabiere deur ons trop
om post-erotiese e-pos oor optiese paaie
na die hoogste duine vir ons aan te dra
as ons na die klank van harpe kyk en die lig
van onsterflike stelsels in die donker hoor,
bymekaar
sonder die hinderlae van tyd
of die doodsakkers van die lyf,
na die arend en die uile
uit die oog van die gemsbok kyk.
