NAGMAALLIED
God is n sirkel waarvan die middelpunt oral en die omtrek nrens is nie. 
Empedokles
Breek uit hierdie helder
Sondagoggend, Heer,
vir my U brood van Lig,
dat ek dit in die vlamme
van U wyn kan doop
en drink en drink
totdat ek dronk van hoop
en rooi van liefde
uitrek deur die Tyd:
druppel asem, stukkie son,
wat lig word
in die paradoks van nag
en eindeloos
die kortste pad deur leegtes
van die donker omtrek
na die Middelpunt toe vat.
