Ag so, Pablo Neruda
Vanaand skryf ek die moerigste vers oor haar.
Og, n hand vol sterre?
Waarom nie eerder donderbuie
om n wisselende gemoed op te vang nie?
En waarom, Pablo Neruda, is jy melancholies?
En presies wat het jy verloor?
n Geliefde of die idee van die geliefde?
En n gedig wat die hart tref soos dou op gras?
Jy vergeet klaarblyklik daar is geen hart
meer ter sprake nie. Dalk eerder n geval
dat jou gedig langer sal bly staan as die verlore vrou?
n Siel verlore? n Soekende hart?
Jy het haar nie meer lief nie?
Tog treur jy oor n ander haar sal soen,
sal vashou 
Dat sy aan n ander sal behoort.
Hoe kort die liefde, hoe lank die herstel, meen jy.
Hoe kort die verblinding, hoe hewig die rusies.
