Salida
In die vele hotelkamers
van vreemde bestemmings
my bagasie in- en uitgepak.
In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul:
ontmoeting  ervaring  vertrek.
In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies  later morsig,
vol beskuldigings, verwyt
oor die onaangename, pynlike afloop.
In die hotelkamers van die wanhoop
soms n soewenier geneem  niks agtergelaat nie:
behalwe oortollighede, uitskot
of laaste indrukke soos: Ek verkies
dat jy nou gaan en my nooit
weer kontak nie.
In die vele hotelkamers
nimmer lank vertoef nie. Maar onthou,
lank getreur. n Gekneusde hart
is soos n oorvol tas wat jy saamsleep
van doeanepunt tot doeanepunt.
Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed. Maar elkeen was n vertoefplek,
n hawe vir die hart: visas
verval in n paspoort. Jou visum helaas
nog lank nie finaal gestempel nie:
n reis sonder finale bestemming, eindpunt.
Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in di hotelle.
Met j deur op slot.
