Aan die gesiglose muse
Ek wag
op n sms, n oproep,
n e-pos,
n teken:
dalk n rooksein
om jou weer te sien.
Maar jy swyg
in alle kubertale.
Net
vlugtig
verskyn
jy soms in n droom:
jy staan op n skip
soos die skeepskaptein
van die Titanic se nooiensvaart.
Jy?
Gesiglose, teisterende, oorweldigende,
tartende, oorrompelende
muse 
laat my nou met rus.
Deur soveel jare
het jy jou ongevraagd
aan my opgedring.
Ek vlug vloekend
uit my ouerhuis
met n paspoort
gestempel vol
dwase besluite.
Liefdesgeluk
bedreig
n derde party
in n huwelik,
gedagvaar om
woordvergelding.
Vlugtend
van Karo tot Kuba;
van Smolensk tot Pakistan.
O muse,
jy het elke gedig
verander in n testament
met jou betreding.
Tog wag ek steeds op jou,
op n teken, op n sein.
