Welcome to the Hotel California
Gisternag ontmoet ons weer
astraal
iewers by n buitelugkafee.
Ons praat
in die hoorbare stiltes
van n droom.
n Boodskapper
berig
ons liefdeshotel het afgebrand:
daardie hotel waar ons eens
mekaar verken het in n kamer
met oop vensters, n patio
en n seebries. Later keer hy terug:
nee, die hotel is nie in puin nie.
Hy is jou eggenoot, die een
aan wie jy wettiglik behoort:
onsnaam staan in die hotelregister.
n Foto van jou in n vyfster-kamerjas,
jou borste soos twee ribbokke,
op n ander een kyk jy verby my
asof jy my nie sien nie. n Derde
foto flits n donker vag
waarna ek skaamteloos staar.
Herinneringe van ons eertydse liefde
word nie deur die vuurtonge
van afsegging, misverstand of verwyt
verwoes nie.
Die sissende kole van jou stilte,
die vlammende vure van my verse ten spyt.
