La belle dame sans merci
Eers het sy my oor die kole gehaal
oor ek soms n lewe buite haar lei;
toe val my gedigte haar in die rede,
daardie pynlike poskaarte van stilte.
En ek meen, hoe ek vertoon en optree,
n woedende stiervegter met n rooi lap,
het insgelyks in die bed n probleem geword.
Die verskillende dimensies betree, nee,
bekruip, ontstig gemeensaamheid.
Ook dat ek haar tekort skiet, my oordadige
liefde ten spyt. En spyt bloei hier al vroeg:
stukkie vir stukkie word ek opgekerf
op n houtblok in die kombuis:
Ek die bul, sy word die stiervegter
wat n mes in my hart steek.
Eers my linkerboud, dan die regter een
afkap, en ten slotte my blad
in die Deluxe-oond op 180  indruk.
Maar net voor al my vet uitgebraai word
oor al die kluitjies wat ek bak,
beland die hele boksemdais in die wasmasjien:
as jy mooi luister, sal jy hoor
hoe ek, die verdwaasde lover, om en om draai
in haar skommelende tuimeldror.
Boonop haar man loop vertel
sy wou my nie regtig h nie,
die klein matador.
Elke wond in my lewe, uit my jeug
was in hierdie verbintenis oopgeruk:
hoe lank dan voor die wonde heel?
Ook die wond wat hierdie vers haar
en die leser, mag aandoen?
Wanneer verleer ek Lorca
of is dit nou Kavafis, dalk Chris Pelser
op besoek aan Ithaka,
dat die digter oor die wiel van die wonde
die versrels draai?
