Girl interrupted
Hulle soek jou op,
die straight girls
met hul handsakke vol lipstiek, maskara
en verwagtinge. Hulle kry jou nie klein
nie. Jy word nie beheer nie. Jy bly in jou eie ruimte,
sonder aanhangsels of n verlede wat n voordeurklokkie lui.
Of kibbel oor onderhoud of bybetalings.
Jy is mr as die voorskrifte wat hulle in hul handsakke dra.
Miskien is jy iets soos n verkeersboete
of dalk n aanmaning oor n onbetaalde rekening.
Jy verloor gou jou aanloklikheid
wanneer hulle jou skouertas begin uitpak:
hulle vind hierin n tarotstel,
n paspoort vol vreemde stempels,
dalk n foto van n vorige minnares
of n liefdesbrief. Alles tekens van n bestaan
buite die raamwerk van vrouetydskrifte
se Hoe weet jy jou geliefde het n ander lewe?
Hulle sien die littekens oor jou bors.
Hulle verlaat jou ook
uiteindelik vol verwyt
oor jy boonop van hierdie misverstand,
hierdie kortstondige verbintenis,
n opstandige vers maak.
