Lied vir die self
Met apologie aan Walt Whitman
Om klaar te maak met die liefde,
die soeke na die ander helfte,
die toeverlaat,
die totale begrip,
kan nie meer nie.
I sing the body electric,
skryf daardie seemansdigter,
daardie soeker na selfvervulling.
Vir dekades word die een geliefde
na die ander, gesigloos, lyfloos,
die maste waarteen sy haar vlae hang.
Nou vaar sy finaal alleen,
en sy kyk na al die skeure
op haar wapperende vlae.
Oor die verre oseane van haar onbewuste,
weg, weg van n ewig-aangesprokene,
n alles skipbreuk lei.
O om klaar te maak met die liefde,
die soeke na die ander helfte,
die toeverlaat,
die totale begrip,
durf nie meer nie.
Walt Whitman, jy ken die vreugde
van selfvervulling,
van die lied van die eie lyf.
