Op hierdie dwase ouderdom
Skryf ek teen die muur:
nooit weer nie, nooit weer nie,
ruk ek snags wakker,
dwaal omtrent vir twee ure in die huis rond,
is sesuur helder wakker.
Ons is nie meer n item nie,
ons gaan nie meer uit nie,
ons verhouding is verby,
en almal glo dis beter so.
Tog ruk my hart
vanoggend op hierdie dwase ouderdom
wat vashou aan iets soos liefdesgeluk.
Ek het nie meer krag vir die liefde
of dit wat poseer as liefde nie. Nabyheid, teerheid,
gemeensaamheid wat bitter gou ontaard
afstand, stryd en eensaamheid.
Om eensaam te voel in die liefde.
Om eensaam te voel buite die liefde.
Skryf ek teen die muur:
nooit weer nie, nooit weer nie,
want nimmermeer sal ek omgee,
of ooit weer jou ring dra nie.
Op hierdie dwase ouderdom,
op hierdie dwase ouderdom
word ons geskryf op mure en glase.
