Die leser, Edms. Bpk.
Kyk, geliefde, my verse
behoort nie aan jou nie,
nog minder aan my.
n Gedig is n e-pos
versend in die kuberruim,
met aanhangsels
of n virus,
vuig
onder die waarskuwende oog
van n webmeester.
Die aanhangsels maak die boodskap
lomp en swaar;
die virus maak dit onleesbaar
en die verdomde webmeester,
n voorste klikbek,
begryp niks
van privaatheid nie, van ek of jy.
So n leser, so n leser,
lees die ryme en ritmes anders as bedoel:
verstaan niks van n onomatopee
of e-pos
uitgewis,
altyd opspoorbaar,
n hiroglief,
kompak,
dubbel be-teken.
