Some enchanted evening
sien ek jou in n ouditorium,
maar jy hoor my nie meer nie,
jy kyk verby my.
Jy is omring met ander,
jou aura is soos n ysterhek
om jou, afgesluit
van my. Jy vermy kontak,
die gewone gebare van herkenning.
Jy praat met iemand agter my,
asof ek afwesig is. Alle woorde
is opgebruik, sketter n sms
uit n vorige ontmoeting. Jy skakel
jou foon aan: op watter boodskap wag jy?
Jy stap weg van my die onsienlike in.
Woordeloos roep ek na jou.
Die nag lewer niks op nie,
net n droom: jy staan voor my deur.
Die loergat raam jou,
maar ek kry die deur nie oop nie.
Daar is ysterhekke tussen ons
soos in n ou begraafplaas. Dan
is jy binne-in my woning,
asof jy nooit weg was nie. Nee,
s jy, ek soek iemand anders se nommer.
Ek skakel jou nommer, die foon lui
ongevraag soos in n ouditorium:
die gehoor kyk gesteurd om.
Jy word n vreemdeling in my poorte.
Ek sluit die ysterhek om my hart.
Jy het weggegaan en jy bewoon
hierdie silwer herberg van my vers.
