Concordia discors
When one is young everything is physical;
when one is old everything is psychic.
 Wallace Stevens (Adagia)
Toe ek jou leer liefkry het,
het ons mekaar nie bewimpel met woorde nie,
nee, eerder die liefde haar loop laat neem
in beloftes van altyd, vir ewig.
Jou lyf het myne geword,
myne joune. n Hele dag in n sorgelose
liefdesbed. Die reuk van jou vel, die kleur
van jou o, die sagte aanraking van jou hand:
my volledige toeverlaat.
Toe begin ek met woorde reis
in gedigte. Ek verlaat saans die hawe
van jou huis, vaar oor verbeelde oseane
na Ithaka: Odusseus trotseer vele gevare.
Jy word Penelope, onrustig, wagtend.
Jy vermoed iets staan tussen ons. n Ander?
In die nag karteer ek die reise
tussen Skilla en Charibdis. Ons liefdesbed
n ruimte van onsekerheid, onrus.
En dan?
Verlaat ek jou. Onverwags. In verligting
en verdriet. Op n soloreis en jy, Penelope,
lees die verse wat aanfladder soos soldate,
die aantygings van n misgeloopte verbintenis.
Ek vaar terug na jou met skeurbuik van verlange,
terug na n verhouding-per-afspraak.
Ons bewimpel mekaar nie meer met woorde
nie, maar met verwyte, verwagtings. Ek dros weer:
ons bed slaan aan die brand in passieloosheid.
Ander het jou in my afwesigheid die hof gemaak.
Vele woordbedelaars was voor jou deur.
Ook Telemachus was daar. Terwyl ek vaar
oor n woeste see van verlang, onthou, terugkeer.
En nou speel Odusseus vir Penelope
op n woordharp musiek. En sy?
Sy luister nie meer nie, sy draai haar rug
op die eentonige melodie, op die astrale reis
in drome, herinneringe en ander ontasbaarhede.
