Vissi darte
Op die speelgrond
in standerd vyf
sien ek haar stap
my eerste geliefde
 met wie ek leer tongsoen
en gevaarlik gevry het  met n nuwe
maatjie aan haar hand:
weg van my.
Hierna het ek telkemale
daardie scne herhaal, letterlik
en figuurlik. Dit via Freud
begryp. Maar steeds my geliefdes
een vir een verloor:
aan n minnaar, aan n minnares,
aan die dood, selfs een ingeboek
in n gestig. In my verbeelding
soveel post mortems gehou.
Die film van my liefdesverwording:
met Lara, Scarlett OHara, Blanche DuBois, Holly Golighty  
Met my hart wat al hoe swaarder, seerder
word. Geweeg en te swaar bevind:
die skrif is teen die hart.
Weer en weer op daardie speelgrond
geland: die toneel bekyk 
ge-pause, ge-rewind, ge-fastforward,
maar gevind dis onmoontlik om uit te wis.
