Die digter as argivaris
Eendag sal die digter
as argivaris terugkeer na die kuberruim
se nalaatsels en ons argief besoek:
die vele e-posse (met aanhangsels,
fotos) van daardie liefde. Die aanvanklike ekstase
wat stadig maar seker oorgaan in tekstase.
Op watter punt het die bloeiende botsels uit Kyoto
plek gemaak vir die letsels van n Hirosjima of Nagasaki?
Die argivaris is die enigste ooggetuie. Die fyn navorser
wat tussen e-posse sal soek: hier, net hier het misverstand
en tespraak ingetree. Daardie oomblik
toe die bottende, bloeiende vers
meer geword het as die liefde. Toe die gedig nie
langer as n dokument kon optree nie.
Wat is uitgewis? Wat is behou?
Vertel die boodskappe uiteindelik dieselfde verhaal?
Of is die ervaring van die twee geliefdes
 eens in kommunikasie  ook nou verskillend?
Of sal die argivaris vergeefs bly soek na n voetnota
wat tot n ander speurtog lei:
die digter het die liefde onwetend lank lank gelede
verlaat toe die gedigte begin uitbot het.
Bloeiende botsels in Kyoto,
klein atoombomontploffings van afstand.
