In drome begin verantwoordelikhede 
In my laaste droom van jou
reis ek per boot na Ithaka
sonder jou, weg van jou.
Totdat n stem oor die luidspreker aankondig:
jy is n ekstra passasier.
Vir die res van die droom
loer ek deur patryspoorte,
staan op die dek
en soek tevergeefs na jou,
n ontglippende fata morgana.
Soms sien ek n voet,
n hand of jou silhoet
of hoor jou lag. Rinkelende ysblokkies
in n whiskyglas. n Snoekerbal gesink.
n Kabine wat sluit.
My laaste droom van jou,
op reis per boot na Ithaka,
glashelder, afwesig n aanwesig
jy, n Salome-verbeel.
