Aan die einde van die renboog
Ek l
in die opgefrommelde lakens
van jou dubbelbed,
verrinneweer
deur die stilswye,
die gebrek aan begrip,
die verby mekaar praat.
Jy staan voor jou kas
in jou deurtrekker,
jou mooi peerboude
ginnegaap begeerte.
Ons maak nie meer liefde nie.
Dis dood tussen ons
op die Sealy Posturepedic.
Jy staan nie meer op jou knie nie,
nee, nie meer nie.
Snags draai jy jou rug op my
en my woordelose toenaderings.
Jy dink ek weet nie
jy is klaar met my nie.
Jy laat sy kaartjie in jou motor,
oop en bloot. En ek?
Hou jou dop,
weet my lyf
is die probleem:
real women have curves,
teugend aan n Camel filter
in ons oorlogsbed.
Jy, die Amasone,
ek, n latter-day Osiris.
Op n tyd sou jy Isis wees,
my terugwen
vir die spel
van opmaak-uitmaak.
Vanoggend is my lyf n lyk.
Om my groottoon: Dood aan
hartstogsgebrek.
Jy trek die gordyne oop,
the show is over.
Ek glo nie meer
aan die pot goud
of die renboog nie.
