Ex libris die postmodernis
Uit stof is jy gevorm
en tot stof sal jy terugkeer,
o, swymelende, potiese objek,
muse sonder weerga!
Hoe totaal buitensporig
hoe jy n ander jy herhaal, herhaal.
Wat verraai dit nie tog van die digter
se beswyming nie?
Die liefde as huurkoop?
Of die inruilwaarde van die hartstog?
Dat hierdie pyn al vantevore, vantevore
gevoel, gely, gevoel, gely is?
Dat die wiel van die wonde
eentonig bly draai, bly draai
soos in n Moulin Rouge?
Dat die gedig met n interteks,
voetnoot en kniebuiging
n tekstuele lewe van sigself het?
O jy mag vra waar die vers dan is
Die gedig, liewe leser, l
iewers tussen Hirosjima en Nagasaki
in n atoombomontploffing
of dit word n vers in vertaling
(Wat verlore raak, skryf Robert Frost,
is die ware, oorspronklike, eenmalige gedig)
so groot soos n borreltjie dialoog:
O, jy is my begin en einde.
Veral my einde. Sela.
