Miss Otis regrets
Diegene wat hulself sien
in n vers geplaas op die webruimte,
moes alreeds deur verskillende soekkamers gaan:
soos n liggaam afgemeet vir n kis?
So, spieltjie, spieltjie aan die wand,
wie is die mees (h)erkenbare leser in die land?
Dalk Grietjie wat sonder haar Johansie
die bos bewandel
en al dieper
en dieper
en dieper
die webruimtes invaar?
Of Doringrosie tobbend
oor sy herkenbaar in n vers beland?
Almiskie die meisie dansend met die rooi skoentjies
soos Judy Garland in The Wizard of Oz?
Die Slapende Skone wagtend
tevergeefs op hr minnares se kus?
Haar lang, goue hare hang nie meer by die venster af
nie, haar kamersleutels is teruggestuur
en miskien, miskien
slaap sy nie eens meer op n ertjie
nie.
