Posie, skryf Lorca,
spruit uit bitterheid
van die siel:
daardie dwase opvanggebied,
nee, eerder fabriek,
se rare vermo
om jare na die tyd
wanneer boontjie reeds n loontjie
kry, op te spruit. Of wat skryf ek alles?
In Granada stap ek
twee dekades weg van my ouerhuis.
Steeds hoor ek my vader se aandgebed,
sien my moeder in die kombuis bak
en my susters by die opwasbak lag.
Wou dit anders h, so graag anders:
n gesin heelhuids soos ertjies
in n peul. n Mooi, volmaakte granaat.
n Vrug dragtig op die regte tyd.
Suiwer saad wat oor alles stort;
geen brak- of kleitrapgrond
Nou besig met Lorca
se onsigbare heuningkoek
waaraan n hommelby woedend
wroet. Vergifnis, vergeet?
Die siel is n paleis vol geheime.
