DIS NAG IN BRONKHORSTSPRUIT
Jou kamer word net soet geluid,
van fluit en harp wat vloei en raak;
asem dryf en hande vat note
op instrumente raak
wat vier seisoene maak en snak
as buitekante wegraak: ren in grond,
die spel van tong en mond en hand
note wat net die lyf kan lees.
Jou kamer word n klein kapel.
Dit sneeu voor Sainte Chapelle.
Die wind dryf wolke oor die Hoveld
wat rol en beur om in vervulling
uit te breek: hoor die orrel ooptrek
in die Notre Dame:
God wat dit weer regkry
om met wind en pyp en mens se lyf
die skepping te herhaal  en ons beur
deur die skoonheid om sy verste punt
gelyk te haal en hoor:
die fluite fluister oor die sneeu
voor Sainte Chapelle, die orrel dreun
in Notre Dame en in die Hoveld
sug die wind versadig onder ren.
Jou kamer word n katedraal
vol kerse waarom ek bewend
hande hou 
want ek wil weer en weer kan hoor:
die harp, die wind, die orrel en die fluit,
die nag in Bronkhorstspruit.
