Vannag bedink ek die seerste rels
Soos n dief wat stiekem n selfoon
en kredietkaarte steel
en polisie wat laatnag help soek
deur vullisblikke na die verlore goed
in n stad wat sy verrotting uitstraal:
so voel ek na jou vertrek 
beroof
afgesny
identiteitsloos
en stukkie vir stukkie aan die afsterf.
Natuurlik kan n mens nuwe selfoon koop,
kredietkaarte kanselleer en hernieu
en n saak by die polisie aanhangig maak.
Korttermynversekering vergoed ons immer;
en di soort van ding het in elk geval
n korte lewensduur. Die vervaldatum
netjies uitgedruk. Die tegnologie
vinnig oumodies, gedateer.
Dis net dat niemand
sal weet ho onrestoureerbaar my hart is,
n vervalle, stinkende, verrottende stad
vol haweloses, verlooptes sonder n toeverlaat.
