Solitaire
In n hotel
se dakkamer bring ek n naweek
deur,
alleen.
My eerste verhouding
het in so n dakkamer begin in Amsterdam.
Hierna is daar baie grond drooggel,
dyke rondom my hart gebou.
Later het ek n dyk geword,
n openlike gay vrou,
n vrou wat haar voorkeure uitstal.
In vele verse die lot van die dyk beskryf.
Die mannetjiesvrou. Die dubbelvrou.
n Plesiervaart op die Donou,
n duur ete op die Seine,
n reis na Machu Picchu,
op die shinkansen na Hirosjima.
Maar die reisverse en -kaarte is alleen.
Aan die einde van die renboog.
Want my lot is dubbelvoudig:
nog vrou, nog man. Boonop aangetrokke
tot vroue wat deur mans
verlaat, verneder en versmaai is.
Kom na my toe, julle wat vermoeid is deur mans,
was eens my motto. Laat ons die wonde heel,
opruim, orden, regmaak, verbeter, n nuwe lewe
skep op n boulevard waar die son nooit sak nie,
waar die blomme altyd bloei, waar geen eks
of band n reis kan belemmer of vertraag nie.
Maar ongelukkig is daar altyd kinders
wat gevoed en versorg moet word.
Aan Mamma se rokspante trek.
n Huis met n was- en skottelgoedmasjien,
n swembad en skoolroetine.
n Eksman wat bly pa staan.
Familie en skooluitstappies,
werkverpligtinge en huiswerk.
Playstations wat zir en skateboards wat klap.
En sy wat nie hoor as hulle naby
is nie, wie se lyf en stem en gebare
verander. Wie se o net na hulle kyk,
omdat die naelstring nooit geknip is nie,
die simbiose tussen ma en kinders
onwetend, dog kragtig die lover uitsluit
soos n ryk rondom water.
En u vra
wat maak ek alleen in hierdie dakkamer?
