Leonard Woolf in n ongeposte brief aan Virginia
Ek sal altyd vir jou n kamer aanbied,
een waar jy in volledige stilte
jou demone kan besweer;
kan vergeet van hoe jou broer
jou kamer snags besoek het.
Nee, ek sal meer as n vertrek wees
vir jou, my geliefde Virginia:
ek sal vir jou n lighuis wees
sodat jy op jou lewensreis
deur die vele storms
altyd sal kan terugkeer
na my,
jou eggenoot,
wagtend in die groot donkerte.
