Nou ja
Wagtend op die stasie
op die trein na Wegkeervanjou
wag ek met al my bagasie,
n rugsak. Natuurlik
met n pen en kladboek byderhand.
Miskien is die trein vertraag?
Miskien ontspoor?
Miskien staan ek op die verkeerde perron,
want ek wag tevergeefs
op daardie trein na Wegkeervanjou
en hopelik sit jy nie in daardie trein
en wag op my nie. Want moet ek
vertrek sonder jou,
al weet ek dat ek op hierdie roete
jou in vele gesigte sal herken,
jou voetstappe sal hoor,
jou sagte mond sal voel.
Soms sal ek ook die redes
vir ons opbreek op die stasierooster
aflees, jou harde stem veroordelend
en nie meer troostend nie, hoor opklink.
Wagtend, wagtend op die stasie
op die trein na Wegkeervanjou
met n enkelkaart.
