Voorheen
Voorheen kon ek my so oorgee
aan die einde. Byvoorbeeld:
ek sou die kruietuin op my bo-balkon
tot simbool verklaar en peinsend toekyk
hoe elke rooi blom ons einde aanstip,
gedienstig, geduldig, getrou.
Die stofsuier sou herinneringe aan jou
opsuig en die gedroogde blomme in my kombuis
sou die vrotwaters van ons verhouding voorspel.
Jou wasgoedsak, n verlore kledingstuk
in n wasmasjien, sou elke emosie tuimeldroog.
Jy sou boonop jouself as die aangesprokene herken
en my die verwyt van uitpraat, uitskel maak.
Nou is dit skaakmat, ons is kiets, die hereweet.
Laat ons nie nog n vers lees van n digter
wat dig oor die liefde wat uitloop op berou nie.
Die rooi blomme in die kruiebak
verwys na n kersieboord in Kyoto;
die stofsuier n gasmasker in Nagasaki.
Elke simbool geweeg en te flets bevind.
Hoe durf ons persoonlike leed verhewig?
Dit was Hiroshima, mon amour 
Vandag val daar bomme oor Bagdad
en almal weet: En skielik is dit aand.
