Iteratief-duratief
jy bel vroegoggend,
klokhelder jou stem.
Geluk met jou verjaarsdag.
Te bang om te vra of ek jou vandag sal sien
tussen familieverpligtinge en -vieringe deur.
Ek wag. Op die foon,
die voordeurklok 
Jou foon lui beset, twee keer klink jou stem
formeel op die antwoordmasjien.
Ek laat geen boodskap nie. Trek die blindings toe
vir n sista. Dink hoe jy gister beloof
het jy sal wegvlug.
In n helder droom sit ek aan jou verjaarsdagtafel.
Jy laat na om my te voed. In die badkamer
stort water uit die muur. Jy draai die kraan toe.
Ek verlaat die besige huishouding sonder om jou
te groet. Jy hardloop agter my aan: roep woedend
na my.
Toe ek wakker skrik
Is daar geen boodskap, sms of e-pos nie.
Ek vier die einde van ons verhouding
met jou verjaarsdagsjampanje.
En leer die wag af.
Alleen. Soos dit n geleentheidslover
betaam.
