DIE SOLDAAT
Tussen leraars en profete staan hy skielik
in die deurkosyn.
Hou n brief vir parafering. In sy ander hand
sy geweer en patroonband en sy oog vee
oor haar bene en keel.
Vrou so ver van eie land en see? In haar skoot
onder die leeromslag van die Woord
voel sy opeens soos n landingstrook as hy wapperend
in haar ooptrek soos die blink lap van n valskerm.
