SMSE
jy is my brander
ek jou strand
tussen jou kom en gaan
bly altyd iets agter
wat koel syfer
tot diep in my
sand   
as jy lag
vergeet ek my roep
sit my kaarte op die tafel
want jy lag soos ek dink
die troewe lag   
ek het jou so regtig
so eenvoudig lief
soos Grieg die note
toe hy Solveigs Song
gemaak het   
as jy by my wil plak
sal ek vir jou n sinkie slaan
een met n spits dak
een wat winters warm
soos jou o raak
en somers helder
soos jou hart
