EK KOM KAAP TOE
ek kom Kaap toe om vir jou my seun
n gedig te bring  my laaste dalk  waar jy in jou Kloofstraat-flat
die see kan aftrek
met jou rug teen die berg l jy klim nou alleen jou steiltes bo my uit
en dit is goed
so ver het ek jou gebring
en jy is nou in sprankelende afsondering
reis binnetoe
verby die onoorspronklikheid van reproduksie verby die fabrisering van assosiasie
verby konsepte en veralgemening spreekkamer-inkkladde
onthou skaars sokkermiddae wat petskeef vyfuur teen haltes wag
en ons alleen die eerste aand
loop verder as jou hart
tot waar die diepste waarheid sag die deur vir jou wyer hou
spits n klein treetjie binnetoe kyk mooi
daar roer stof soos n opstanding as jy bloed proe in jou mond
en tyding jou asem inloop
moenie altyd die boodskapper glo nie jy dra die geheimenis self
dit sal deur jou vingerpunte kom as jy die pen liggies vashou
miskien sal ek hierna Venesi toe gaan om te sterf
maar eers:
jou pa het ek tot nou toe alleen
liefgehad
hy het ook al die plekke vir my gaan wys met laagwater was die see nie in beheer nie ek kon skulpe soos orakels bo die wind roep en die agapante in Rondebosch
was blouer as enige ander dag
die sterre nomades wat kom afbuk by die fontein van sy o
en met elke teug was ek deursigtig en weerloos soos water
skryf jou verse
en lees hulle drumpeldeur in elke kafee maar eers moet jy dieper weet
ek vergesel jou nie
die mirakel sal in stilte kom
die toonaard van sy stem was lakens oor my skouers
en sy mond heelnag metafoor so verrassend nuut dat my kop teen sy skouers vol geword het soos n rel
nou gly jy die straat met skaatsvaart af jou skouers bakhand vir die Kaapse lig ek weet jy sal ruimer na die lewe gryp want uit soveel klank en kleur
is jy geskep
jy leef waarvan ek geleef het ek hoor jou opkom
maak plek vir n mirakel!
