Lenvoi
Vergeet van vingertaal.
Hul begeer net die paal.
n Minimalistiese vers
Onmoontlik
dankbaar
draaglik
smaaklik
bestendig
beskryflik
versetlik
beslis
Afskeid en vertrek
Die geskiedenis van ons verhouding
 begin-middel-einde: einde-middel-begin 
staan opteken in my Outlook Express
met 4000 boodskappe  dank vader vir Hewlett Packard
se uitsonderlike geheue. Jy, daarenteen,
wis weer alle boodskappe uit. Die digter as historiograaf,
optekenaar, verslaggewer van die liefde
se verloop. Alles geregistreer in e-pos-boodskappe
soos ek verlang na jou, waar is jy?. Jou boodskappe
ook in kleinletters, myne meer formeel gepunktueer.
Fotos by n troue (ons verhouding het begin met vriende
se bruilof en geindig met n ander wat ons te vroeg
verlaat het ). Juis dalk dit die punt: dat die einde
gekom het voordat ons emosies uitgespeel was?
Dat ek vertrek het voor alles uitgepraat was?
My Compaq Armada  met die Twin Towers as agtergrond 
pak op. Hierom n nuwe rekenaar. n HP: vinniger en sekuurder.
Die laaste gesprek het inderdaad uitgebly: hoe kom
mens ooit tot helderheid? Veral as die geskiedenis
verskillende blikhoeke behoef. Joune
versus myne, buitestaanders se nugterder blik
op n toenemend ingewikkelde verbintenis. Afskeid
en vertrek. Vertrek voor afskeid. In vele drome
pak ek klere in. Soos n reisiger wat skielik ontdek
in n vreemde hotelkamer: die laaste lughawebus het vertrek.
Of n vlug verpas. Of impulsief op n ander trein klim
om n nuwe landskap te ervaar en iewers uit n internetkafee
n lugboodskap via MWeb vir die geliefde aanstuur.
Uit Tokio, Kyoto, Osaka, Hirosjima, Nagasaki
pos ek lugkaarte. Op Singapoer-lughawe versend ek n foto
per e-pos na jou. In Kyoto hoor ek jou stem internasionaal dwingend.
Verlange op soveel maniere opgevang, versend in die kuberruim.
Liefde glo eenmaal verklaar, bly voortleef. Nes e-pos eenmaal gestuur.
Poskaarte, briewe het plek gemaak vir die efemere, onmiddellike kuberskrif.
Die epos van ons verhouding? Soos in epiese gang?
Heftig, vinnig, dringend, kortstondig, bloedig. Soos in Hiroshima, mon amour.
