Gewoonlik wil straight vrouens jou h,
die gay girl,
wat help vertroos oor al die mans
wat hul in die steek gelaat het
met aborsies, geboortes en miskrame
en nooit geweet het van post partum-depressie
of n orgasme gefake
soos koue melk oor Rice Krispies.
Gewoonlik wil hulle by jou bly,
die gay girl
wat lamstjops kan braai,
kerrie en osstert behendig kan kook,
die swembad en skottelgoedmasjien kan skoonhou,
bereid is om Pick & Pay toe te ry,
n derdeparty-skyfie te hernieu
in n lang ry vol wagtende mense,
en veral n eksman op sy plek kan gooi.
Gewoonlik wil hulle neffens jou wees,
die gay girl
wat verstaan en vertroetel en begryp.
Maar wees gewaarsku, gay girls,
in die bed, ja, in die bed
soek hulle na mr as troos en troetel.
Dan moet jy uithaal en wys
anders haal jy nie die paal nie
en word alles n woordelose stryd.
