Signed, sealed, delivered
Presies op dieselfde tydstip
wat ek ons verhouding versel
in strofes,
pak jy my op in n bruin boks:
elke geskenk, foto en memento
woordeloos voor my deur gelaat.
Ek e-pos die vers na jou,
jy l jou woede voor my deur.
So beland ek in jou Inbox
en tegelykertyd in jou Outbox.
Vanoggend toe ek die blindings lig
laai jy jou kind af. Soos n voyeur kyk
ek toe. Die kind haal sy tas uit. Jy groet hom.
Jy kyk nie op soos oudergewoonte
om te sien of my venster oop
is nie. n Teken indertyd van n SOS:
oggendkoffie, gesels, koestering voor die dag begin.
Nou kyk ek na jou. Soos n karakter in Robbe-Grillet
se La Jalousie. Deur die blindings. Vr van jou.
Ver van jou goed, na aan jou beskadiging. Die duur wynkruik
 ingesmokkel uit n verre land  het n kraak in. n Fotoboek
wys smeersels. En jou swart leerskoene (waarmee jy oor my Nancy Sinatra)
staan ongevraag in my studeerkamer waar Freud en Lacan toekyk:
op ons verhouding verpak in n kartonboks
vol geskenke, onthousels, fotos, struwelinge,
die family romance, jy & ek.
Onverwags afgesmyt op n lou Maandag.
Return to sender. Afgehandel. Uitgegooi.
Soos n orgaan wat verwerp word. n Opvoering wat gekanselleer word.
Om die blindings te lig. Om die bordjies te verhang, sou ek s.
Hoe lank duur dit voordat ons ophou kyk en wonder en tob?
Of bly die kraak in die wynkruik vir altyd daar? Of breek dit vanself?
En nou gaan ek ophou tob en dink en wroeg.
Waarskynlik self die wynkruik breek,
my hoof vetsmeer met kleursel, my klere skeur,
vir veertig dae en nagte ronddwaal in die woestyn
en veral, veral my totaal, finaal, volledig oorgee aan
die enigste, blywendste, durendste verhouding: die posie.
