Vierde naweek sonder haar
n Derde weg na herstel (glo 100 dae
om weer ekwilibrium te vind) hou ek boek:
ek was my klere in n outomatiese Bosch Maxx
ek drink Entre Nous-rooiwyn
ek pak my kombuis reg
ek orden my studeerkamer en gooi drie sakke
vol ou papiere en dokumente weg
ek gaan alleen uit en bestel n gunstelinggereg
ek drink whisky-on-the-rocks
ek bel my vriende
ek skryf aan my roman Kladboek
ek lees Lacan oor die knope in die psige
ek sien die Osho Zen tarot vertel jy is aan die herstel
ek droom ek ry na jou huis, maar word met klippe bestook
ek sien deur die venster hoe dit buite onverwags ren (natuur-in-simpatie)
en jy?
jy bel nie meer nie
jy stuur nie meer e-pos nie
jy dink waarskynlik ek verf die dorp rooi
jy glo dat die een wat vertrek dit maklik het
jy dink vermoedelik nie eens meer aan my nie
jy weet nie eens dat ek letterlik en figuurlik bloei nie
