Jy het nie in my koue klere gaan sit nie
In elke droom oor jou
keer ek terug
na jou huis. Maak my klerekas
oop in jou slaapkamer,
begin pak aan my agtergeblewe kledingstukke.
Of die klere is soek,
of daar hang nuwe klere in die kas,
of ek sukkel om dit alles in n tas gepak
te kry. In een droom verpas
ek selfs n trein. Peul die klere
soos herinneringe uit my tas.
Het jy jou sleutels gekry?
Versend per geregistreerde pos:
RD 240 372 283 ZA.
In n volgende droom staan ek naak
en iemand stap binne sonder om te klop.
In n volgende droom is daar n skare,
herkenbaar as jou familie wat woordeloos
soos in n Polanski-film toekyk. Weer en weer.
Terug na die toneel afgesper: Scene of crime.
Do not enter.
In n volgende droom is die kas verskuif.
Hang daar vreemde, outydse klere in,
soos kostuums vir n duur bal. Miskien
jou moeder sn? n Besoeker?
Dan begin almal praat. Oor die verskille.
Die redes vir die breuk. Die soeke na stilte.
Die skending van privaatheid. Alleenheid
versus gemeensaamheid. Ook hierdie gedig
sal as bewysstuk kan dien.
Ons dra swaar aan ons paradokse. Soekend na stilte,
dog skrywend na buite (die digter). Behorende
tot kinders, familie, dog hiperprivaat (die geliefde).
En my kamerjas? Hang dit steeds in die getuiebank?
Daardie kamerjas, daardie kamerjas
waarin jy selfs eenkeer slaap,
dra steeds die mana van my lyf, 
word onwetend die simbool van ons.
Sou jy dit wou behou?
