Eating ones heart out
Voor jou koms
kon ek so moeiteloos, roekeloos, gewetenloos
my oorgee aan hierdie proses. Daar was altyd
verligting. Redding. Die gedig as SOS.
Digter sterf aan gebroke hart. In Egipte
reisend oor die katarakte. At Grand Central Station
I sat down and wept. Tussen n memento en n poskaart
altyd n vers: n stuk graniet geskaai van n monument,
n grinterige rots uit Nagasaki. n Klip uit Machu Picchu.
Met jou breek my hart anders. Uiters.
Ek het geen verweer meer nie. Dit staan reeds geskryf.
In Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. En elders.
Soos in elders mooi weer en warm.
Of elders, liefde miskien. Of liefde, terloops.
Die obiter dictum van die liefde. Net dit.
Want kyk, hoe skryf n mens n haalbare vers
oor die paradoks van die ek-het-vertrek? Ek het weg-
gegaan, en kan nie meer teruggaan nie. Is n liefdesvers
nie altyd oor die spreker se smart nie?
Graniet en grint. Papier en e-pos.
Miskien moes die vers eerder heet:
Die internet is ongeduldig.
Want ek treur al dae lank oor ons, oor jou 
en n gedig waar jy nie meer oor my skouer loer nie.
