n Vers is die heuning van die muses
Onthou jy
hoe ons een aand my screen saver
verander het na: n Vers is die heuning
van die muses?
As ek verkeerd onthou,help my gerus reg.
Maar dit was jy wat my screen saver
verander het. Later het jy my begin verwyt:
Waarom mag jy my wagwoord ken,
maar ek nie joune nie? Waarom neem jy altyd jou laptop
saam? Waarom moet jy ook oor naweke jou e-pos lees?
Is daar iemand anders?
Daar is nie iemand nie. Daar is iets. n Proses.
Dit bepaal jou lot. Dit tas jou oordeel aan.
Dit bekruip soos n migraine. Dit boots
die werkinge van die lyf na. Dis nes menses,
met n afgemete, soms driftige siklus. Dit betrap
jou. Dit transformeer. Inderdaad heuning uit die driehoeksel.
Dit skep uit die gevormde posie weer n gedig. Dit eggo
Eybers se weggaan om oor n jou te skryf.
Dit l soos n toutologiese sin tussen ons 
Met jou is dit anders. Jy aanskou die proses onwetend.
My ongedurigheid, my behoefte aan stilte, aan orde.
Snags slapeloos langs mekaar. n Smeulende sigaret langs
die bed. Totdat ek opstaan teen drie voormiddag,
jou kombuis betree, filterkoffie maak. Die kombuis orden,
die oorvol vullisblik uitgooi, gevriesde melk uithaal.
n Vers is die heuning van die muses rol oor die skerm.
n Plakkaat vir die somer
n Vrou asof sy n papierpop is
bewys hoe ons dag die een die ander se papierpop,
uitknipsel was. In my jeug had ek papierpoppe van Hollywood-sterre:
veral Grace Kelly was n gunsteling met haar garderobe
en Marilyn Monroe staan in haar onderklere.
Maar ek had ook papierpoppe van mans.
Hulle was eintlik my gunstelinge. Veral die een van Clark Gable.
Miskien omdat ek toe al die woorde moes leer:
Frankly, my dear. I dont give a damn!
