Wat maak n vrou wat sopas haar minnares verlaat het?
Met erkenning aan Andr le Roux
Sy laat n boodskap op haar antwoordmasjien
Sy klim in n warm bad
Sy haal die foon van die mik af
Sy diskonnekteer haar e-pos en internet
Sy gaan slaap vroeg
Sy onderneem n reis deur die Overberg
Sy lees Tristia
Sy dekonstrueer oop en buite bakens is die pyn
Sy bel n clairvoyant
Sy bestudeer die tarot
Sy sien haar shrink
Sy praat met haar vriende
Sy ontmoet haar mansvriende wat raad gee
Sy stof haar boeke oor psigoanalise af
Sy drink warm melk
Sy weier om wyn of pille te drink
Sy lees The Alexandria Quartet
Sy ervaar verligting-verlange-verdriet
Sy sms vir Johann de Lange
Sy kots en ervaar die binnewerkinge van die lyf
Sy lieg vir almal oor haar welstand
Sy koop n nuwe wasmasjien en was haar klere witter as sneeu
Sy bel nie haar ma nie
Sy huil sonder dat daar trane is
Sy dra permanent n sonbril
Sy slaap nie meer as twee uur per nag nie
Sy skryf veral nie n gedig nie
