Die gedig as getuigskrif
As ek jou ooit sou verloor,
soos wat n mens n file delete
of op airmail ewe skielik
sonder waarskuwing
n teks uitwis
of n virus op jou computer ontdek
sal ek nooit weer oor die liefde skryf nie.
Nie dat digters ooit oor die liefde dig nie.
Dis eerder oor die afwesigheid,
oor verlies wat die maatstaf word van liefde.
(Dit staan in Winterson.)
Ons maatstaf, dink ek,
is dat ten spyte van soveel verskille
ons steeds dieselfde onse op ons ponde tel
en na n reis van drie en n halwe jaar saam,
weet ek ons kan nie sonder mekaar leef nie.
As ek jou ooit sou verloor,
soos wat n mens n file delete
sal ek in die Rescue files van die digkuns
bly skandeer en versoek: herstel, herstel, herstel 
