By nabaat
Ons verhouding het per e-pos
begin
en sal per e-pos eindig.
In die begin is die einde.
Daagliks stuur ek steeds e-posse.
Nie meer om ons liefde te bestendig
of liefde te verklaar nie.
Maar eerder om te kla oor verlore sokkies,
onderklere. Oor n familiebesoek
(nogeens) en my private ruimte
wat ver in die verskiet l.
In stilte hoor ek jou verwyte
oor n skadu-lewe wat ek ly
sonder jou; oor my woede
en opstand teen voorskrif
en struktuur; hoe ver
die binne-mens van die open-
bare persona lyk.
Ek s niks. Doen niks.
Ek speel Gandhi-Gandhi.
Hoe durf jy ons liefde
in gedigte laat uitlek?
Doen niks. S niks.
Theres a kind of hush 
sing die radio saam.
Jy verlaat die tafel. Ek stook
n vuur in die herd. Met die hulp
van Blitz en wrewel. Tob
oor my lewe voor erbarming
en begrip my woordeskat
binnegesluip het. Lees ou gedigte
en ontdek die vloek van n ongelukkige jeug
soos n ongeneeslike siekte,
n opdraande pad. n On-
woord. n Gedig is n verlore klank,
n geskaaide beeld. n Onding.
Dit het n lewe van haar eie.
Soos n nagmerrie sonder klank
(aldus Allen Tate) wat voorspel, waarsku
en uitskommel soos dobbelstene. Dit grif in
jou en die geliefde. Maak daarvan meer
as n optelsom of n noukeurig ingevulde taksvorm.
Hoe sou die lewe sonder somme of sukses lyk?
Of die gewonde kind wat drie, vier dekades later
steeds met n passer in n skoolbank krap:
sodat logaritmes en formules vergaan.
Later die aand kruip jy agter
my koue rug in. Om drie vm.
verlaat ek ons bed
en skryf hierdie vers
en sms vir Johann de Lange:
Time is the school in which we learn.
Time is the fire in which we burn.
Delmore Schwartz.
Jy hoor my nie meer nie.
Jy lees my ook nie.
Jou vinger sal by voorbaat
die delete-knoppie druk.
