Dial L for love
My eerste liefdesobsessie
in standerd ses
soos gister se onthou:
die wiskundejuffrou
met haar Mona Lisa-glimlag,
haar passievolle allure,
die meisie-van-die-L.O.-onnie.
Love means never
having to say youre sorry,
snik almal saam in Love story
oor Ali McGraw en Ryan ONeal
se tragiese verbintenis.
Maar my juffrou wis
van niks, terwyl sy meetkundige formules
verduidelik. Ek begryp alles van die algebra
van haar borste, die formules van hartstog
op die swartbord.
Ek leer al die tabelle net vir haar.
Dra haar tas smiddae na die koshuis.
Saans sien ek hulle stap oor die rugbyveld
en toe ons hoor hulle gaan trou,
treur ek oor haar. My vriendinne
snak oor hom: hul eie dr. Serfontein.
Geen sout of water nie. Niks.
Onbewus van my bly sy,
terwyl haar bra
eentonig wapper op die wasgoeddraad
in die koshuisvierkant.
Ek hoor haar stem oor n foon wat doodgaan.
Die blou tiekieboks sluk my munte
wanhopig in. Dial L for Love.
Haar wittebrood speel
in my gedagtes af: op Margate tongsoen
hulle en in Durban wens ek hy val
in die haaitenk.
Daar is baie sardyne in die see.
In die akwarium van onbeantwoorde liefde
tog net ek en sy, ek en sy, ek en sy
O juffrou met die bordpasser,
na soveel dekades is dit steeds jy,
wat met elke einde in my skroei.
