A room of ones own
Altyd gedink die vers is nie
aan tyd of ruimte gekoppel nie.
Totdat my skryfplek
in jou kombuis (met Frida Kahlo op die agtergrond)
met sy oranje mure, horlosie en skottelgoedwasser
my ontneem word.
n Ander rekenaar het my plek ingeneem.
Hoe skryf n mens dan nou eintlik?
Wat maak van di ruimte jou plek?
Ek was vier jaar oud
en het my goedjies ingepak in n tamatiekissie
langs my bedjie. Daar was n klein motortjie, n kammetjie,
n boek (vol kosmerke) en n spieltjie. Later
kortstondig n kamer met n suster gedeel.
n Krytmerk op die vloer het die ruimtes afgemerk.
Daarna was alleenwees weer my voorland.
Schiller se appelskille in n laai,
Hemingway se skerpmaker vol saagseltjies,
Flaubert se hope notas langs sy lessenaar,
wys hoe die skrywer grif. Afmerk.
In transito. Op pad. Uit n tas. Heen en weer.
Nie meer n plek, n ruimte, n kas nie.
Niks is finaal nie. Elke vers wat ek skryf,
word vervang, oorgeneem, ingeneem.
Onmoontlik om tussen drie en vyf vm.
n vers te delf in die mynhope van onthou.
Daardie plek, ruimte bestaan nie meer nie.
Dit word beset. Oorgeneem. Uitgestoot.
Hierdie vers meld sig aan: Steek n kleim af.
Versoek n Edms. Bpk.
