This funny thing called loneliness
Eensaamheid,
soos onsekerheid,
het n reuk. Die reuk
van skooltoilette,
sweet in n L.O.-klas
of diammoniumoksied
in die wetenskapklas.
Onsekerheid,
soos eensaamheid,
skei iets af. Die uitnodiging
na n skoolparty
of versoek: Sal jy met my kys?
aan almal behalwe die gebreklike,
die gay kind of die predikantsdogter gerig.
Ook diegene wat anderkant die spoor
leer van geregsbodes, brandewyn-en-coke,
naai en poes en kak,
n pa se vatterige hand
reeds vroeg onder die knie het,
beland op die uitskotlys
soos daardie reuk in die skooltoilet,
die skerp sweet in die L.O.-klas
of n gebreekte fles in die wetenskapklas.
So what the hell!
Ons was almal daar:
Die ontvangers van onsekerheid
of die hartelose afwysbodes.
Ons onthou dit soos gister.
Hoe n kind uitgestoot
word uit die kring van selfversekering,
van sukses en gewildheid.
Verskoppelinge verskans
hul pouses in biblioteke
of hou agter die toiletmuur skuil.
Miskien, miskien is die ongewildes
nog meer onseker vandag. Dalk
waarom hulle selfs in hul middeljare
na goedkeuring of erkenning soek?
Nooit geleer om hul eensaamheid
of onsekerheid eiegoed te maak nie.
Eensaamheid voed onsekerheid.
Die een is die ander:
amper nes vinkel en koljander.
