My jeug
So keer ek terug
na my ouerhuis
wat nie meer bestaan nie.
My ouers het getrek
na n meenthuis
in n ander buurt,
binne loopafstand van die kerk,
n dorp met n biblioteek
en n groot fontein.
Daar is n monument
vir die Boereoorlog
en hier het Smuts
ook sy setel verloor.
Ek loop deur die nuwe huis:
besigtig alles voetjie vir voetjie:
n engel wat harp speel
voor die hemelpoorte;
die Bybel-in-kalfsleer;
n skildery
wat iets uitblaker
van haelwit gestapelde wolke
en vele boeke oor die politiek
deur Verwoerd en Malan,
die wysvinger van P.W.
ook hier verewig.
In hulle nuwe huis
staan al die oorblyfsels,
mementos
van my opgefokte jeug.
