Pase by my ouers
Hulle bid tot hul HereGod 
vir die Opstanding,
oor die Verlossing,
oor die vermeerdering van brood
en visse, oor Genade
en hul middelkind
se langverwagte besoek.
Luister na hul verhale,
hoe iemand se neef ingedoen word,
oor my susters se lewe
en Tant Gog se onverwagse afsterf.
Op 82 en 76 dra hulle krom
aan die stories van hul lewe
by die kruispad van die dood.
My ou vader weier om na n ouetehuis
te gaan; my kromgetrekte moederlief
berei vir my n gunstelingmaal
in hul meenthuis gepantser
met ysterhek en staaldeure.
Ons praat oor plaasmoorde,
inbrake, aanvalle en bedelaars
wat daagliks voor die deur staan.
Hoe lank nog, Vader,
voordat hulle aan U deur klop?
