GEMMERLELIE
Jy blom gemmerleliewit,
kraak klam voortjies op die lip.
As jy wil, sal ek jou herplant,
jou neersit in my kamer, oop in die son
sal ek jou versorg, jou met vrede voer,
berglug uit die kranse oor jou waai,
vir jou boeke koop en musikante kry
met n trom, n tjello en n trompie,
jou soggens bad in die sproei van watervalle
en in die lente met ons vreugde
met jou blomme
op al die vensterbanke van my liefde spog.
